Selfs hier in 'n elektronika winkel is daar polimere om elke hoek en draai. As ons dink aan elektronika, dan dink ons aan geleidende materiale, soos koper en ander metale, of selfs half-geleiers soos silikon. Aangesien meeste polimere eerder isolatore is as geleiers van elektrisiteit, beteken dit beslis nie dat hulle geen plek het in die wêreld van elektronika nie. Begin sommer en kyk na die kabels agter die radio. Aangesien 'n mens isolatore hier nodig het, is dit seker 'n goeie plek om polimere te gebruik, veral polimere soos poliëtileen en poliisopreen. Vir drade wat baie warm kan raak word 'n brandtrae polimeer polivinilideenfluoried gebruik.

Die omhulsels van hierdie kompakte skyf (CD) spelers en versterkers is ook gemaak van plastieke soos byvoorbeeld polistireen. As jy 'n bietjie jou rekenaar oopmaak, sal jy baie elektroniese stroombaanborde sien wat gemaak is van epoksihars, ook 'n isolator.

Volgende loer ons hier na die luidsprekers. Die tregtervormige deel van die luidspreker word gewoonlik van papier gemaak. Papier is 'n vorm van sellulose, een van baie natuurlike polimere. As jy kyk na hierdie duurder komponente, sal jy sien dat hier meestal van polipropileen gebruik gemaak word i.p.v. papier.

Hierdie klein piezoelektriese luidsprekertjies ("tweeters") bevat polivinilideenfluoried. Polivinilideenfluoried is uitstekend vir gebruik in luidsprekers aangesien dit van vorm verander indien jy dit in 'n elektriese veld sit. In 'n wisselende elektriese veld sal dit dus begin vibreer, en kan so gebruik word om klank te produseer.

Hier is 'n luidspreker met al sy komponente mooi bymekaar. Die kabinet is van hout gemaak, 'n ander vorm van sellulose. Die beskermende materiaal voorop is gemaak van nylon, wat oor 'n polistireen raam gespan is.

Ooit al die telefoon van sy tafeltjie af getrek as jy dalk net 'n bietjie te opgewonde was oor dit wat jy gehoor het? Die slag waarmee die telefoon val is gewoonlik hard, maar kom gelukkig baie min iets oor. Dit is omdat die omhulsel die elektronika beskerm. Dit word gemaak van 'n spesiale tipe polistireen, hoë impak polistireen. Dit is 'n ent kopolimeer van polistireen met 'n rubberagtige polimeer, polibutadiëen. Hierdie kombinasie is baie sterker as gewone polistireen.

Onthou jy dalk nog, of het jy dalk al 'n spoel-na-spoel kassetopnemer gesien? Die bande was gemaak van poliëster.


Terug na die Vlak Een Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi