Nie-lineêre Polimere


Baie polimere bestaan uit atome wat in lang lineêre kettings aan mekaar verbind is. Maar polimere hoef nie altyd uit lang reguit kettings te bestaan nie. Polimere kan ook uit ander rangskikkings van atome bestaan. Hier sal 'n paar van hierdie ander rangskikkings bespreek word.

Vertakte polimere

Party maal is daar kettings verbind aan die ruggraatketting wat ongeveer dieselfde lengte is as die ruggraat self. So 'n polimeer word 'n vertakte polimeer genoem. Sekere polimere, soos poliëtileen, kan of lineêr of vertak vervaardig word.


Netwerke

Die sykettings het soms eienaardige eienskappe. Partymaal, sal die punte van die ketting aan twee verskillende polimeer ruggraatkettings verbind wees. As daar genoeg sykettings is wat aan verskillende molekule vas is, kan dit gebeur dat al die polimeer ruggraatkettings in 'n monster aan mekaar verbind sal wees. As dit gebeur, word so 'n monster een yslike polimeer molekuul, groot genoeg om met jou hande te kan optel. Hierdie tipe polimere word kruisgebinde polimere genoem. Baie tipes rubber, soos byvoorbeeld poliisopreen en polibutadiëen is kruisgebind.
'n Motorband is eintlik ook 'n enkele yslike molekuul, groot genoeg om met twee hande te kan optel. 'n Kegelbal bestaan ook net uit een molekuul. En daardie ou swart slingertelefone se omhulsel het ook net uit een molekuul bestaan.


Ster polimere

Somtyds word die eindpunte van verskeie polimeerkettings op een punt aan mekaar gebind. Sulke polimere word ster polimere genoem, en word gebruik as bymiddels in motorolies.

Soos 'n boom...

Somtyds bevat 'n polimeer geen ruggraatketting nie. So 'n polimeer word opgebou uit vertakkings, wat net aanleiding gee tot nog vertakkings ens. Sulke polimere word dendrimere genoem, afgelei van die ou Griekse woord vir "boom".


Behalwe vir die feit dat die polimere mooi lyk as jy hulle teken, het hulle ook 'n paar baie interessante eienskappe. Een so 'n moontlike toepassing vir hierdie tipe polimere is die gekontroleerde toediening van sekere medisynes. Daar is ook 'n silikongebaseerde dendrimeer wat suurstof in sy vertakkings kan vasvang. Daar word gehoop dat hierdie polimeer dalk eendag as sintetiese bloed gebruik kan word. Toepassings in die nabye toekoms sluit moontlik gebruike as oppervlakbeddekings en ook as kataliste in.


Terug na die Vlak Drie Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi