Polisianoakrilate
polycyanoacrylate structure


Polisianoakrilate het meeste van ons al te doene mee gehad. Partykeer was hierdie situasies nie altyd so aangenaam nie. Ek praat nou van die kere wat jy jou vingers met "superglue" aan mekaar vasgegom het! Ja, hulle is uitstekende kleefmiddels, en bind baie goed aan vel!

Wel, die volgende vraag is seker hoekom die polisianoakrilate sulke goeie kleefmiddels is? Deel van die antwoord is omdat hulle so vinnig droog word. En nou wonder jy seker hoe werk dit? Wel, dit werk so. Die buisie "superglue" wat jy in die winkel koop bevat glad nie enige polisianoakrilaat nie, maar wel die sianoakrilaatmonomeer soos byvoorbeeld hierdie metielsianoakrilaat:

En dit is soos die monomeer in 3d lyk:

As jy die monomeer op dit wat jy wil vas gom sit, dan polimeriseer dit volgens 'n anioniese viniel polimerisasie. Waterdamp in die atmosfeer, of dalk vogtigheid op die oppervlakte, tree op as inisïeerder.

Hierdie polimerisasie vind plaas binne sekondes, en gee aan jou die polisianoakrilaat polimetielsianoakrilaat soos in die voorbeeld hierbo en heel bo aan die bladsy. Maar ander alkielsianoakrilate kan ook gebruik word, soos butielsianoakrilaat of oktielsianoakrilaat.

Polisianoakrilate het nog 'n verdere baie bruikbare eienskap. Dit is nie-toksies. Wel, dit bind goed aan vel, en dit is nie-toksies. Miskien sit dit jou aan die dink, en wonder jy dalk of dit nie gebruik kan word om wonde toe te maak i.p.v. naald en gare nie. Party dokters probeer om polisianoakrilate as kleefmiddel te gebruik om korneas en retinas in oë reg te maak. Verder word films van polisianoakrilate getoets om dalk as sintetiese vel gebruik te word waar veloorplanting vir ernstige brandwonde gedoen word.

Gewoonlik word sianoakrilate met langer alkiel estergroepe gebruik as die wat in die gewone "superglue" gevind word. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die polioktielsianoakrilaat hier regs. Die rede hiervoor is dat polisoanoakrilate met kort alkielkettings, soos metielgroepe, baie keer 'n irriterende invloed op weefsel het. Lang ketting alkiel polimere het nie hierdie uitwerking nie.


Terug na die Vlak Twee Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi