Die SCRIMP Proses


deur Greg Brust
SCRIMP SM: Koste effektiewe materiale meer effektief gekombineer

Ja, jy wonder seker al teen hierdie tyd wat 'n SCRIMP is. Wel, dit is nie die verkeerde uitspraak van die Engelse woord shrimp nie. Dit is eintlik 'n afkorting (akroniem) vir "Seemann Composites Resin Infusion Molding Process". Dit is 'n nuwe proses, wat gebruik word vir die produksie van saamgestelde materiale.

Kliek hier om 'n paar dinge te sien wat m.b.v. Scrimp gemaak word.

Maak jou eie saamgestelde materiaal by die huis deur van SCRIMP gebruik te maak

Wel, seker nou nie heeltemal nie, aangesien die chemikalieë wat gebruik word om die spulletjie te laat set, giftig en korrosief is (soos julle hier langsaan kan sien).

Defnitief nie iets om by die huis te probeer nie. Dit kan ook nogals duur raak, maar dit verhoed jou nie om verder oor die proses te lees nie.

Om 'n saamgestelde materiaal met die SCRIMP proses te maak, is baie soos om 'n koek te bak. Jy meng 'n klomp goed bymekaar, gooi dit in 'n pan, druk dit in die oond, en 'n paar uur later het jy 'n saamgestelde materiaal "koek". Hier is die resep.

Eerstens het jy 'n pan nodig. Gaan maar voort en bou vir jouself 'n groot vorm. Hoe groot, wonder jy dalk. Wel, met SCRIMP kan 'n mens tot die hele romp van 'n skip giet in een slag. Glad nie sleg nie! Maak in elk geval 'n gietvorm soos jy wil hê jou saamgestelde materiaal se buitekant moet lyk. Moenie bekommerd wees oor 'n boonste gietvorm / deksel nie, aangesien SCRIMP dit nie nodig het nie. Die volgende stap is om die gietvorm met "botter" uit te smeer. Gebruik eerder maar iets soos politetrafluoroëtileen sodat jou produk nie aan die vorm vassit nie. Plaas nou 'n laag vesel neer aan die binnekant van die gietvorm. Hierdie vesel is die ding wat aan die saamgestelde materiaal meeste van sy sterkte gee. Hierdie vesel is meestal veselglas, nylon, of selfs koolstofvesel. As jy 'n dik maar ligte saamgestelde materiaal wil hê, moet jy volgende 'n kern insit. Die kern kan enige iets wees, van 'n skuim tot balsa hout wees. Volgende moet jy weer 'n laag vesel neerlê, en dit plak met een of ander medium. Laastens moet jy 'n plastieksak oor die hele lot sit, en dit verseël. Koppel nou 'n vakuumpomp aan die sak, en suig al die lug uit die vorm uit. Die pan is nou gereed. Nou vir die deeg.

Die deeg van so 'n saamgestelde "koek" word die matriks hars genoem. Die meel van die matriks is die epoksihars en die eiers is die setmiddels. Daar is 'n wye verskeidenheid epoksiharse, en selfs nog meer verskillende chemikalieë om die mengsel te laat set. 'n Mens moet dus maar versigtig kies, anders kan die spulletjie flop! Meng nou die hars en die setmiddel goed, en sit dit in 'n drom gekoppel aan die sak m.b.v. 'n pyp. Die vakuum sal nou die hars in die vorm in suig, en die vesels deurtrek, totdat die hele gietvorm gevul is. Net soos om deeg in 'n pan te gooi.

Plaas dit nou alles binne 'n oond vir 4-6 ure teen 350 grade. Die oond moet natuurlik groot genoeg wees om die gietvorm te kan hanteer, so jou ma se oond by die huis sal dalk nie werk nie.

En as die tyd verby is, haal die saamgestelde materiaal "koek" uit die oond uit. Haal die sak af, en dan is die "koek" gebak.

Kliek hier om te sien wat alles met SCRIMP gemaak kan word.


Terug na die Saamgestelde Materiale Bladsy


Terug na die Vlak Vier Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi