Die belangrikste gebruike van
poliuretaan skuime
Die vraag is egter, hoe word al hierdie belangrike skuime gemaak? Die antwoord is eintlik heel eenvoudig. Voeg water by as jy 'n poliuretaan maak! So maklik soos dit. Ons sal jou wys.
Onthou jy nog van die poliuretaan sintese bladsy, dat daar gepraat is oor oligomere, dimere, trimere ensovoorts? Dan onthou jy dalk dat hierdie oligomere isosianaatgroepe aan die punte het. Die koolstof in die isosianaatgroep is reg tussen twee elektronegatiewe atome, 'n suurstof en 'n stikstof. Die twee sal die elektrondigtheid op die koolstof verlaag. Die koolstof sal dus 'n tekort hê aan elektrone. As ons dus nou water sou byvoeg, met sy twee alleenpaar elektrone, sal dit die koolstof te hulp snel, en 'n paar elektron aan die koolstof doneer.
Met die koolstof nou tevrede gestel i.t.v. elektrone, sal een van die pare wat dit deel met stikstof in 'n dubbelbinding, die binding verlaat, en op die stikstof rus. Die stikstof sal dus nou 'n negatiewe lading hê.
Stikstof is nie gelukkig met 'n negatiewe lading nie, en soek dus na maniere om ontslae te raak van die lading. Dit los die probleem op deur 'n waterstof by 'n watermolekuul te kry.
Nog steeds nie tevrede nie, sal die stikstof nog 'n verdere waterstof neem by dieselfde plek. Dit laat ons dus nou met 'n amien op die punt van ons oligomeer, en koolstofdioksied gas word vrygestel.
As jy 'n film wil sien van hierdie hele proses, van die aanval deur water tot die vorming van 'n amien, kliek hier.
Hierdie amien kan met 'n volgende isosianaatgroep reageer, net soos water, om nou twee oligomere aan mekaar te koppel d.m.v. 'n ureumbinding.
As jy 'n film wil sien van die hele proses waar 'n amien reageer tot die vorming van 'n ureumbinding, kliek hier.
En? So die poliuretaan het nou 'n paar ureumbindings i.p.v. uretaanbindings. Watter verskil maak dit nou? Wel, nie veel nie. Die ureumbinding verander die eienskappe van die polimeer nie so baie nie. Wat egter baie belangrik is, is die vrystel van koolstofdioksied gas in stap drie.
En dis hoekom:
As die polimerisasie begin, is die mengsel 'n vloeistof, en enige koolstofdioksied wat gevorm word sal net verdwyn in die atmosfeer. Geen probleem nie. Maar soos die reaksie verloop, en die molekulêre gewig toeneem, sal die mengsel meer en meer viskoos raak, tot dit uiteindelik 'n soliede materiaal vorm. As dit gebeur sal die koolstofdioksied binne die viskose vloeistof vasgevang word. En as die polimeer harder word, bly die gas binne die polimeer vasgevang, en maak so die skuim!