Polivinielpirolidoon


Vir 'n vinnige oorsig oor polivinielpirolidoon, kliek hier!

Polivinielpirolidoon word in baie plekke gevind waar 'n mens glad nie sou verwag om 'n polimeer te sien nie. Dit was byvoorbeeld die hoofkomponent in die eerste suksesvolle haarsproeie van die vroeg 1950's. Ja, die byekorf haarstyle van die 1960's was te danke aan polivinielpirolidoon!

Een van die redes hoekom hierdie polimeer gewerk het as 'n haarsproei, is die feit dat dit oplosbaar is in water. Dit beteken dit kon uit jou hare verwyder word as jy jou hare gewas het. Hierdie affiniteit vir water was egter ook 'n groot nadeel gewees. Polivinielpirolidoon absorbeer water uit die atmosfeer, wat die oorsaak was van haarstyle wat nie altyd gelyk het soos dit moes nie.

Maar hierdie probleem is opgelos m.b.v. 'n ander polimeer, naamlik 'n silikoon polimeer, polidimetielsiloksaan. Om die verbetering wat die silikoon polimeer aangebring het te verstaan, moet jy eers verstaan hoe 'n haarsproei werk. As dit aangesprei word, vorm die polivinielpirolidoon 'n dun lagie om die hare. Dit is hierdie polimeer lagie wat die hare styf en in plek hou.

As daar nou 'n tweede polimeer in die sproei is, wat nie sal meng met polivinielpirolidoon nie, sal die twee 'n faseskeiding ondergaan. Die byvoeging van die silikoon polimeer sal presies dit tot gevolg hê, en die twee polimere sal skei sodra dit op die hare gesprei is. Jy kan uit die volgende prentjie sien wat sal gebeur:

Die silikoon vorm 'n lagie op die polivinielpirolidoon laag, en hou die water uit. Dit beteken dus dat die hare 'n meer natuurlike voorkoms sal hê.

Maar dit is nie al wat polivinielpirolidoon kan doen nie. Dit word ook aangetref in die gom wat laaghout aanmekaar hou. Maar 'n ietwat meer opwindende toepassing is die gebruik van hierdie polimeer om lewens te red. Êrens in die begin van die twintigste eeu het iemand besef dat 'n pasiënt wat baie bloed verloor het, aan die lewe gehou kan word deur net bloedplasma aan die pasiënt te gee totdat bloed in die hande gekry kan word. Maar partykeer is selfs bloedplasma moeilik om te kry, en moet 'n mens maar probeer om die plasma so 'n bietjie meer te maak. Dit is agtergekom in die Tweede Wêreldoorlog, en ook die Koreaanse Oorlog, en hier is die tekorte aan plasma aangevul deur plasma met polivinielpirolidoon te verdun. Dit het beteken dat meer gewondes met die beperkte hoeveelhede plasma gehelp kon word.

Polivinielpirolidoon is 'n viniel polimeer (dit so 'n mens nou nooit kon raai nie!). Dit word vervaardig d.m.v. 'n vrye radikaal viniel polimerisasie van die monomeer vinielpirolidoon.

En so lyk die monomeer in 3d:


Terug na die Vlak Twee Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi