Sleutelwoorde
gel
Akrilate is 'n familie van polimere, wat eintlik deel is van die viniel polimere. Akrilate word natuurlik gemaak van akrilaat monomere, en die monomere sal nou hier bespreek word. Akrilaat monomere is esters wat 'n vinielgroep bevat, d.w.s. twee koolstofatome met 'n dubbelbinding tussen hulle, direk gekoppel aan 'n karbonielkoolstof.
Van die akrilate het 'n ekstra metielgroep geheg aan die alfa-koolstof, en word die metakrilate genoem. Een van die mees algemeenste metakrilaatpolimere is polimetielmetakrilaat.
'n Mens kan dalk dink dat hierdie een klein metielgroep nie 'n groot verskil sal maak aan die eienskappe van 'n polimeer nie, maar dit maak wel 'n verskil. Polimetielakrilaat is 'n wit rubber by kamertemperatuur, maar polimetielmetakrilaat is 'n sterk, harde, deursigtige plastiek by kamertemperatuur.
Ketting mobiliteit is die faktor wat bepaal hoe hard of sag 'n polimeer by 'n gegewe temperatuur sal wees. Dit is 'n aanduiding van hoe maklik die kettings verby mekaar kan beweeg en gly. Hoe meer hulle kan beweeg, hoe sagter is die polimeer. Dink aan 'n klomp slange wat oor mekaar gly. Hulle liggame het geen uitsteeksels nie, en hulle kan dus sonder enige probleme verby mekaar gly en glip. As die slange egter spykeragtige uitsteeksels op hulle liggame gehad het, so hulle baie moeilik verby mekaar kon gly.
Polimetielmetakrilaat is soos een van die slange met die uitsteeksels al langs sy rug af, met die ekstra metielgroepe wat as uitsteeksels dien om enige beweging vinnig te stop. Polimetielakrilaat weer is soos gladde, glibberige slange. Sonder die ekstra metielgroep wat in die pad is, kan die kettings heel gemaklik verby mekaar gly. Indien die polimeerkettings maklik verby mekaar kan gly, sal die hele massa maklik kan vloei. So 'n polimeer sal sag wees, en een wat nie so kan vloei nie, sal hard wees.
En as jy meer wil weet van die ooreenkomste tussen polimere en slange, kyk gerus na die glasoorgangstemperatuur bladsy.
Die eenvoudigste akrilaat polimeer is die een wat die minste verstaan word. En dit is natuurlik ...
Dit is wat ons 'n poliëlektroliet sou noem. Elke herhaaleenheid het 'n ioniseerbare groep. Poliakrielsuur is eienaardig, aangesien die ongelooflike hoeveelhede water opsuig. Dit absorbeer, sonder veel probleme, 'n paar maal sy eie gewig in water. Polimere wat dit doen word superabsorbeerders genoem. En toe het iemand besluit om dit in babadoeke te sit. Onthou al daardie advertensies waar hulle daardie blou oplossings op babadoeke gooi, en dit verdwyn? Wel, dit was die superabsorbeerder poliakrielsuur aan die werk!
En moenie eers dink dat ons enigsens 'n idee het hoe poliakrielsuur dit reg kry om so baie water te absorbeer nie. Ons het nie die vaagste benul nie!
Die voordeel daarvan om poliakrielsuur in doeke te hê, is behalwe vir die feit dat die hele besigheid heelwat skoner is, is daar ook geen nattigheid waarin die baba moet sit voordat die ma en pa agter kom dis tyd om die doek om te ruil nie.
Daar is heelwat afgeleides van poliakrilate wat stikstof bevat. Poliakrielamied en poliakrilonitriel is twee wat in die figure gewys word. Poliakrilonitriel word gebruik om akriliese vesels te maak. Poliakrielamied los op in water, en word baie in industrie gebruik. Kruisgebinde poliakrielamiede kan water absorbeer. (Kruisgebinde polimere kan nie eintlik regtig oplos nie, as jy nou mooi oor die saak sou dink.) Hierdie gels wat gevorm word, word gebruik vir die maak van sagte kontaklense. Dit is die geabsorbeerde water in hulle wat hulle sag maak. Om die polimeer en die monomeer akrielamied in 3d te sien, kliek hier.