Die werk begin nou in alle erns.

Hierdie is 'n inleidende bladsy tot 'n meer in diepte ondersoek van polimere. Eerstens moet die volgende eers uit die weg geruim word: indien daar van 'n polimeer gepraat word, waarvan presies word daar gepraat? Wat is 'n polimeer, en wat is nie 'n polimeer nie? Gewoonlik word daar van 'n polimeer gepraat indien die molekuul onder bespreking se molekulêre gewig (of aantal herhaaleenhede) in die omgewing van 'n paar duisend (of meer) is. Ongeveer!

Staan in 'n ry!


Maar gewoonlik is ons darem meer spesifiek as dit. Indien ons van 'n polimeer praat, dan is die molekuul se massa gewoonlik in die honderde duisende, of selfs miljoene. Daar word ook gewoonlik van lineêre polimere gepraat. 'n Lineêre polimeer is 'n polimeer molekuul waarvan die atome meestal in 'n lang reguit ketting gerangskik is. Hierdie ketting word die ruggraat van die molekuul genoem. Gewoonlik sal van die atome in die ruggraatketting kort kettings van ander groepe atome daaraan gebind hê. Hierdie groepe word sygroepe of sykettings genoem. Hierdie kettings van die sygroepe is gewoonlik baie korter / kleiner as die ruggraatketting. Sykettings het gewoonlik maar net 'n paar atome, terwyl die ruggraatketting gewoonlik 'n paar honderd duisend atome bevat.


Polimere is soos televisie deesdae: Herhaling, herhaling, herhaling!

Verder, as ons oor polimere praat, praat ons nie net van groot molekule wat se atome in kettings gerangskik is nie, maar dink ons aan die ruggraatketting wat 'n reelmatige orde het wat homself herhaal, al met die lengte van die ketting af.
Polipropileen is so 'n voorbeeld, waar die ruggraatketting bestaan uit net twee koolstofatome wat oor en oor herhaal word. Die een koolstofatoom het twee waterstowwe daaraan verbind, terwyl die ander een 'n waterstof en 'n metielgroep as syketting het.

Hierdie eenheid van 'n koolstofatoom met twee waterstowwe, en 'n ander met 'n waterstof en 'n metielgroep as syketting, word herhaal in die ruggraatstruktuur. So 'n herhalende struktuur word die herhaaleenheid of die herhaalstruktuur van die polimeer genoem.


Om dinge te vereenvoudig, teken ons gewoonlik net een van die herhaaleenhede op die volgende manier:

Die herhaaleenheid word tussen die hakies geplaas, en die onderskrif n is 'n aanduiding van die aantal herhaaleenhede in die polimeerketting.

Iets anders

Polimere kom ook voor in ander moontlike strukture. Om sulke polimere van naderby te beskou, kyk gerus na nie-lineêre polimere.

Die gevolge van grootte

Wel, eers terug na die eenvoudige lineêre polimere. Hierdie yslike, kettingagtige molekule tree anders op as klein molekules (a.g.v. hulle grootte en vorms). Daar is drie spesifieke redes hiervoor, en word in meer detail bespreek op die bladsy: Die drie redes wat polimere verskillend maak.

Daar moet gewerskaf word!

Polimere begin nie sommer groot nie. Hulle begin ook maar net as klein monomeer molekules. Om 'n polimeer te maak, moet 'n hele lot van die monomere aan mekaar gelas word in 'n reguit ketting om 'n polimeer te maak. Stireen monomere moet byvoorbeeld aan mekaar gelas word om polistireen te maak:

Vir meer inligting oor die bou van polimere uit monomere, gaan reguit na hierdie bladsy toe.


Terug na die Vlak Drie Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi