Hoe sit PTFE aan braaipanne vas?

Hier is 'n paar interessante antwoorde om oor te dink:


Van Dietrich McCall:

Die metaal van die braaipan moet 'n tekstuur hê waar die teflon sal kan vassit. Jy moet dus die teflon smelt by 'n hoë temperatuur, en sodra dit gesmelt is dit in die growwe tekstuur van die pan laat insak.

As jy 'n kleefmiddel aan 'n oppervlak wil laat vassit, help dit om die oppervlak grof te maak. Die rede hiervoor is dat die growwe oppervlak die totale kontak area van die twee oppervlaktes sal vergroot. Kragte tussen die twee oppervlaktes sal toeneem met toenemende kontakarea. Dit beteken dus dat die aantrekkende kragte sal toeneem en die oppervlaktes nog sterker aan mekaar sal vassit (indien die twee areas mekaar kan aantrek).

Dankie vir jou bydrae, Dietrich!


Van Carl:

Teflon word gemeng met 'n polimeer wat PTFE aantrek. Hierdie substraat is sag, en vorm 'n enkel koolstof binding met die aluminiumallooi van die braaipan. Dit is egter 'n baie swak binding, soos gesien kan word uit die feit dat 'n mens baie maklik die teflon van die pan kan krap.

Die volgende vraag is nou hoe bind hulle teflon aan reenjasse (GoreTex)? Gebruik hulle 'n ooreenstemmende metode, of is dit 'n laminering?

Die idee om PTFE en 'n tweede polimeer te meng, en dan die tweede polimeer kovalent aan die pan te bind klink goed. In die geval van Gore-Tex, wil dit my voorkom asof dit 'n laminering is.

Dankie vir jou inset, Carl!


Van Douglass Campbell:

Indien 'n mens die kontak oppervlak van PTFE kan defluorineer, behoort dit maklik aan die braaipan vas te sit. Die oppervlak area kan dan eers vergroot word deur dit grof te maak. Die gedefluorineerde PTFE en braaipan behoort dan goed aan mekaar te kleef.
Die idee om 'n materiaal te hê wat bo op gefluorineer is, en nie onder nie (dis nou die kant wat aan die braaipan vas kom) is goed. Die enigste probleem is egter die defluorineringsstap wat jy voorstel. Koolstof-fluoor bindings is baie sterk, te sterk om sommer te breek. Dit mag dalk 'n beter idee wees om die probleem vanuit die ander rigting te benader: Bedek eers die pan met iets soos polietileen, en fluorineer dan die bokant van hierdie oppervlak laag. Dit kan heel maklik gedoen word deur F2 gas oor die polietileen oppervlak te blaas. Die feit dat fluoor gas giftig is, en dalk nie gebruik moet word op eetgerei nie, mag dalk 'n probleem wees. Hierdie metode word egter gebruik om polietileen pyp 'n PTFE laag aan die binnekant te gee.

Om die oppervlak van die pan grof te maak sou gewerk het as die pan en PTFE mekaar reeds aangetrek het, aangesien aantrekkingskragte proporsioneel is aan die kontakarea. Maar, ongelukkig is afstotende kragte ook proporsioneel aan die areas in kontak met mekaar. As ons dus die oppervlakte grof maak, sal die oppervlak area vergroot word, en sal die afstotende kragte tussen die pan en die PTFE molekules vergroot word.

Dankie vir jou bydrae , Douglass!


Van Rafael Pinto:

As ek partykeer 'n eier bak of 'n kaasburger maak, sit of die eierwit of die kaas nogals goed vas aan die pan. Miskien kan 'n proteien soos albumien of kaseien gebruik word om PTFE aan iets te laat vassit. Iets anders waaroor ek gedink het: Wat sal gebeur as die PTFE laag porieus gemaak word? Dan kan 'n ander polimeer mos deur die gate gesteek word, en die PTFE sodoende vashou. Dit mag dalk deurmekaar klink, maar dit is maar net die gedagtes van 'n elektroniese ingenieur na middagete!

Om porieë in die PTFE te gebruik om dit met 'n ander materiaal aan die pan vas te bout, is glad nie 'n slegte idee nie. 'n Mens kan selfs probeer om die braaipan se oppervlakte deur die gate te laat steek. I.v.m. die proteiene. Die probleem wat sal opduik is dat proteiene nie sulke hoë temperature sal kan hanteer soos die op die oppervlak van 'n warm braaipan nie. Al wat sal gebeur is dat dit swart sal brand soos 'n stuk vleis wat jy vergeet het om om te draai in die pan. Al wanneer jy sal kry dat iets aan 'n braaipan met 'n PTFE laag vassit, sal wees wanneer die polimeer laag afgekrap is (wat baie maklik gebeur)

Dankie vir jou vrae (en antwoorde), Rafael!


Terug na Politetrafluoroetileen


Terug na die Vlak Twee Kaart


Terug na die Macrogalleria Indeks


Kopiereg Voorbehou ©1995,1996 | Department Polimeerwetenskap | Universiteit van Suid-Mississippi